Na twee maande van strawwe inperking is die ontwikkeling van ‘n studentedorp met 2 047 beddens verlede week by die Universiteit van Fort Hare (UFH) hervat. Covid-19 het ‘n ernstige uitwerking gehad op die konstruksiebedryf in Suid-Afrika, insluitend ‘n tekort aan boumateriaal, verlies van inkomste, en die vertraging van sleutelinfrastruktuurprojekte, soos studentebehuising. Onder vlak 3 van inperking kon hierdie sektor hul bedrywighede voortsit, en die werk kan nou voortgaan met die oog op ekonomiese herstel.

“Dit is die grootste studentebehuisingsontwikkeling wat nog ooit in Suid-Afrika onderneem is. Die voltooiing daarvan is noodsaaklik om die behuisingskrisis by die Universiteit van Fort Hare te verlig, en studente toegang te gee tot bronne wat nodig is vir akademiese sukses,” sê Sean Kenealy, direkteur by STAG African, die studenteakkommodasiegroep wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die projek.

Tekort aan huisvesting is een van die grootste uitdagings wat UFH in die gesig staar. Tans kan koshuise by die universiteit se Alice-kampus skaars 50% van die studente huisves. Met hierdie projek poog die universiteit om 65% van die studente op die kampus te kan huisves, asook om ‘n nuwe studentesentrum en ‘n behuisingsblok spesifiek vir nagraadse studente te voorsien.

Kenealy glo dat die heropening van die konstruksiesektor ‘n belangrike rol sal speel om die impak van werkloosheid wat met die inperking verband hou, te verlig. “Die konstruksie en eiendomsontwikkelingsbedrywe lewer ‘n groot bydrae tot die ekonomie – hulle het die potensiaal om groot getalle werkers baie vinnig in diens te neem. In die lig van ons ekonomie, is dit iets wat die regering en die besigheidswêreld voortaan behoort te prioritiseer.”

“Na weke van voorbereiding en die implementering van streng gesondheids- en veiligheidsmaatreëls ooreenkomstig vlak 3-regulasies, is verklaar dat die UFH-konstruksieterrein aan die Covid-19-protokolvereistes voldoen. Fisiese afstandhouding, die dra van gesigmaskers en voortdurende opvoeding is van die maatreëls wat die verspreiding van die virus voorkom, en die veiligheid van konstruksiewerkers verseker,” sê Nangamso Cetywayo, UFH-projekbestuurder by STAG African.

Fase een van die projek is in 2014 voltooi toe 610 beddens aan die universiteit beskikbaar gestel is. ‘n Verdere 854 beddens is in fase twee voltooi, wat befonds is deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en die Europese Unie, en dit word teen meer as R400 miljoen gewaardeer. Wanneer die projek in Desember 2020 voltooi is, sal die totale getal beddens 2 047 wees. Dit sal UFH die hoogste verhouding van studente tot beddens in die land gee.

Comments are closed.