Klets. Babbel. Gons. Skinder. Fluister. Kerm. Grom. Kla. Watokal jy dit noem, is dit moeilik om te stry – dis lekkerder in jou eie taal!

Klets. Babbel. Gons. Skinder. Fluister. Kerm. Grom. Kla. Watokal jy dit noem, is dit moeilik om te stry – dis lekkerder in jou eie taal!

Mense is by natuur storievertellers. En waar beter as om dit op die internet te doen? Tog gebruik meeste van ons Engels in die aanlynwêreld, al het ons dalk stories om te vertel in ander tale. Soos Afrikaans!

Toeter is ‘n splinternuwe kuberruimte waar Afrikaans-liefhebbers in hulle taal kan gons. As jy al op die sosiale media platform Twitter was, sal jy weet hoe dit werk.

Die webtuiste, wat al twee jaar in beplanning is, het in April geopend en geniet tans hul mediavennoot kykNET se kollig. Daar is blykbaar al so twee-of-drieduisend aanskrywers ook.

Marknavorsing dui daarop dat toeter ’n raakvat potensiaal van een miljoen gebruikers het met ’n ooreenkomstige maatskappywaarde van R450 miljoen. So sê stigter Frans Roelofse op die webtuiste se informasieblad.

Na ‘n vinnige registrasieproses, vra toeter vir jou oor jou belangstellings om voorstelle te maak oor mense en groepe om mee maats te maak. Dan kan jy terugtoet, hertoet, of net lekker toet – jy kan selfs foto’s en skakels deel. Hou dit net by 140 karakters, hoor.

Aan die linkerkant van die tuisblad kan jy op jou eie ‘praatkas’ kliek, waar jy ‘n ‘kiekie’ van jouself en ‘n voorbladfoto kan oplaai, en die wêreld ‘n klein bietjie oor jouself kan vertel.

#Magnete is soortgelyk aan Twitter ‘hashtags’, en bring toete oor dieselfde onderwerp (byvoorbeeld #verkiesing2014) bymekaar sodat mense makliker kan gesels. Hulle het self vir jou ‘n paar #magnete vasgemaak soos #www vir skakels, en #Bliksem vir nuusflitse.

Een van my gunsteling groot toeters is @TanniePoppie, wie beloof om “toeter aan die brand [te]kook met reseppies, tips en lekker vet kanse in die kombuis”.

Stigters beskryf toeter ook as ’n “grasgroen bemarkingsweiveld” – en wie weet? Afrikaanse versekeraarsprogram Virseker is onlangs as die webtuiste se eerste adverteerder aangekondig!

Nou waarom nie net Afrikaans praat op Facebook en Twitter nie? Ek het myself die vraag ook afgevra terwyl ek opgeteken het. Maar na ‘n kort rukkie op die blad het ek gesien hoekom toeter dalk kan werk: dis oor die taal.

Afrikaanse mense kan in Afrikaans praat en bybly by Afrikaanse media en vermaak. Nie net bring dit mense met hierdie belangstellings bymekaar nie, maar die taalfokus bring ‘n pragtige kreatiwiteit aan sy gebruik wat ek nog nie op Twitter gesien het nie.

As jy my vra, bied toeter iets uniek vir Afrikaansliefhebbers aan en kan dien as ‘n bron van inspirasie en ‘n gesellige bymekaarkomplek. Boonop kan die webtuiste se oulike ontwerp, slim funksionaliteit en uiterse gebruikersgemak maklik kersvashou by die internasionale sosiale media reuse.

Vind meer uit en sluit aan by www.toeter.com. So lyk my praatkas – ky wat het ek vir Tannie Poppie getoet!

 

Comments are closed.