As 'n Afrikaanse meisie is ek geen vreemdeling by 'n goeie kerkbasaar nie – en as Kerstyd eers kom, begin dinge behoorlik opwarm.

As 'n Afrikaanse meisie is ek geen vreemdeling by 'n goeie kerkbasaar nie – en as Kerstyd eers kom, begin dinge behoorlik opwarm.

Dit weet die mense van Grahamstad blykbaar al goed, en hulle het in vlae op die Neels Heunis saal afgestroom om die vyfde jaarlikse Rapportryers en NG Kerk kersmark by te woon.

Met 'n wye verskeidenheid kos, koekies, lekkers, versierings, boeke, speelgoed, en pragtige dit-en-datjies, was daar iets vir almal by die kersmark. Die kinders kon selfs op 'n springkasteel speel as hulle verveeld geraak het om vir ma of pa te smeek vir nog 'n blokkie fudge!

Die mark het van laasweek Donderdag tot Saterdag gestrek, en volgens organiseerder Annalise Bosch was elke dag beter as die vorige een.

"Ek dink dit het ons hoogste verwagtinge oortref," sê sy.

Hierdie jaar het die kersmark vir die eerste keer geskuif uit die klein Hill Straat kerksaal na PJ Oliver Hoërskool se Neels Heunis saal toe. "Dit was letterlik en figuurlik 'n 'step up the hill' vir ons!" grap Bosch.

Bosch sê die skuif het gehelp om die kersmark 'n reuse sukses te maak: hulle het hierdie jaar 23% meer geld ingesamel as net 'n jaar gelede.

Bosch sê hierdie geld sal gedeel word tussen die Rapportryers en die NG Kerk, en sal dan op verskeie gemeenskapsdiensprojekte gebruik word.

NG predikant Ds Strauss de Jager het my ook vertel oor nog 'n gemeenskapsaspek van die kersmark.

Hierdie jaar het hulle vir twee liefdadigheidsorganisasies kans gegee om verniet uit te stal.

Kuyasa Spesiale Skool het kans gekry om hulle pragtige handgemaakte produkte daar uit te stal. Alles wat hulle gemaak het – vanaf helder papiermache vrugtebakke tot handgewerkte voorskote – is van herbenutbare materiale gemaak.

Asook die Sinethemba projek wat hulle handgemaakte items al die pad van die Transkei af gestuur het!

Schalk van Niekerk, 'n koster by die kerk, het 'n stalletjie gehad waar hy handgemaakte Kersversierings uit saadpeule, heerlike kruie-asyn en sy Kaapse dogter se zeefdruk linne-produkte verkoop het.

'n Nuutkommer aan die mark was Calitzdorp Wynkelders. Lynette Faas, 'n bemarker wat by die mark gewerk het, sê dat hulle rooiwyne veral goed verkoop het.

Volgens Bosch het hulle so goed gedoen dat hulle al klaar beplan om volgende jaar terug te kom!

"Dit het regtig ontplof hierdie jaar," sê Bosch. "Die enigste probleem wat opgekom het is dat ons te besig was op Saterdag!"

Volgende jaar beplan hulle om selfs groter te gaan: 'n groter verskeidenheid, meer kaartmasjiene en dalk nog so paar daggies!

Comments are closed.