In Holland word Afrikaners “rouwdouwers” genoem. Ons was bekend as ‘n rowwe, growwe, ongesofistikeerde volk: plat op die aarde.
In Holland word Afrikaners “rouwdouwers” genoem. Ons was bekend as ‘n rowwe, growwe, ongesofistikeerde volk: plat op die aarde.
Al het ek in Johannesburg grootgeword, het my tyd in klein dorpies in die Oos-Kaap ‘n vreemde verhouding tuseen my en Afrikaans aangeknoop.
Daar bestaan nie regtig so iets soos ‘n Afrikaanse Rhodes student nie. Al wat 'n mens ooit op kampus hoor is ‘n gefluisterde gesprek met Ma of die verengelsde “lank”, “swak” en “lekker”.
In die res van Grahamstad is dit dan ook moeilik vir my om mense te oortuig dat ek Afrikaans is. Jy kan iemand vir vier jaar hier raakloop sonder om te weet dat julle ‘n moedertaal deel!
Ek het egter met deursettingsvermoë en ‘n goeie begrip van my taal ‘n klomp Afrikaners se tonge sien ontknoop en die geroeste, huiwerige Afrikaans hoor uitborrel in my tyd hier.
Ek kon die geleentheid nie laat verbyglip toe ek uitvind die Hollandse skrywer en joernalis Fred de Vries kuier by Rhodes nie.
Ek wou met hom praat oor wat dit is om Afrikaans te wees; die intieme kennis wat hy as ‘n buitestaander met ‘n liefde vir Suid-Afrika van ons het, is indrukwekkend.
In sy nuwe boek Rigtingbedonnerd praat hy oor die post-1994 Afrikaner. Ek het dit nog nie onder oë gehad nie, maar hy was gaaf genoeg om die hoofstuk met my te deel waarin hy met ‘n reeks mense, onder andere Antjie Krog, Eugene Terre’blanche en Steve Hofmeyr, praat oor die toekoms van die Afrikaner.
Wat is Afrikaanse kultuur? Hoe kan ons dit beskryf sonder om na khaki te verwys? Braai? Boer? Rugby, biltong, Bok van Blerk? Sokkie? Rassisme?
Ons identifiseer maar plek-plek met hierdie stereotipes: party meer as ander, en ons hou dit ook meestal vir onsself.
Daar is vir my baie om oor skaam te wees in Afrikaans-wees. Ek praat ‘n taal wat gebruik is in ‘n grusame voorbeeld van die skade wat mense aan mekaar kan doen.
Ek moes hard soek in my kort lewe om iets te vind waarop ek kan trots wees in my taal en die mense wat dit praat – myself inkluis.
Ons het teen die 1900s al die wêreld se aandag geniet toe ons klein, kannie-dood volk die magtige Engelsmanne aangepak het in die Anglo-Boere Oorlog. Maar ons is verneder, en ons moet nog leer hoe om regop te staan.
Ons sal, en dit het niks met stereotipes te doen nie.
Ons moet die kultuur en geskiedenis wat ons herkoms is, aanvaar en vir onsself begin besluit wat ‘Afrikaans’ van nou af beteken.
Solank jy dit praat, hoe jy ook al lus kry, sal Afrikaans groei – en dis al wat nodig is.
Die taal leef voort in kombuise en voorportale, oor die radio en in strate en koerante. Dit beteken alles – van die zefste mullet tot die properste high tea.
Ons het briljante, verbeeldingryke skrywers, en ons musiekwêreld het Dozi darem al oorleef! Wie weet wat ons taal nog sal doen?