‘n Kollega het laasweek vir my ‘n SMS gewys wat aankondig dat die berugte Mills & Boon roman(se) in trotse Afrikaans beskikbaar is.

‘n Kollega het laasweek vir my ‘n SMS gewys wat aankondig dat die berugte Mills & Boon roman(se) in trotse Afrikaans beskikbaar is.

Ek het dit al geweet – en dit het my aan 'n effens pynlike (maar tog baie snaakse) storie herinner.

Mense vra my altyd of dit nie irriterend is om so na aan Kersfees te verjaar nie. “Vergeet mense nie maklik jou verjaarsdag nie? Gee hulle nie vir jou net een present nie?”

Dit het my nooit gepla nie – totdat my stiefma in die prentjie gekom het toe ek 16 was. Sy het darem nie lank gehou nie, net so een of twee kers-verjaarsdae.

Een jaar draai sy vir my ‘n boek toe.

‘n Boek? “Uiteindelik leer sy my ken!” dink ek met verligting.

Te gou, het ek agtergekom toe ek die geskenkpakkie oopmaak.

Ek kan nie onthou of die boek oor die Italianer se blosende tuinier gegaan het of oor die verwronge romanse tussen ‘n jong aristokraat-en-enkelma paartjie nie, maar die hygroman het my laat gril.

Toe ek later sien dat hierdie spesifieke titel eintlik ‘n gratis geskenk was wat saam met die stiefheks se Sarie tydskrif gekom het, het dit my darem beter laat voel dat sy nie regtig geld op so iets uitgegee het nie.

Die boeke wat so opnuut geadverteer word is deur die Jacklin uitgewersgroep se Afrikaanse Mills & Boon boekklub versprei, en daar is ‘n wye reeks titels vir enige tipe vrou – solank sy daarvan hou om verower te word.

Dit lyk of die Fifty Shades of Greymanie wat die wêreld in 2011 oorstelp het ‘n nuwe belangstelling in hierdie soort romantiese ontsnappingsfiksie aangewakker het – en mense wil warm raak onder die kraag in hulle eie taal en styl.

Moenie bekommer nie – al wat jy hoef te doen is ‘n vraaglysie invul oor jou fantasieë en jy sal vinnig iets in die reeks vind wat net reg is vir jou.

Die webwerf www.millsenboon.co.za bied selfs hulp aan om ‘n boek te vind wat perfek is vir jou.

Is dit intrige wat jou prikkel, of is jy op soek na iets meer strelend?

Het jy ‘n swakplek vir mediese fiksie, of wil jy in ‘n moderne liefdesintrige verlore raak?

"Is jy moeg vir die tipiese man wat jou vanselfsprekend aanvaar? Wat nie eers romanties kan spel nie? Waar is al die helde heen?" vra hulle.

Waar is die helde? Hulle is tussen die blaaie van die Mills & Boon-romans in Afrikaans, natuurlik!

Jy kan selfs nou die e-boeke bestel oor die internet.

Lees dit darem net in privaat, toe?

Comments are closed.