Geraldine Klopper
Makhanda het dit. Dit waarna ons uitgesien het met die 1994-verkiesing. Toe die “nuwe” Suid-Afrika arriveer. Dit laat my dink aan Eugène Marais se gedig Die dans van die reën. Die nuwe bedeling sou ’n welkome vars bries wees, nee meer as dit, ’n reënbui wat dae, maande, jare aanhou en op die ou end die dorstige woestyn in ’n oase verander met aan die einde, reënboog op reënboog.
Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom! Moeder Afrika se pasgebore nuweling wat almal hul menswaardigheid sou teruggee. Sy sou geen onderskeid tref op grond van klas of ras nie. Sy sou die kleurryke karakter van ons hart se punt, die suidpunt van hierdie kontinent, omarm. In haar jong volwasse jare sou ons haar bruilof vier. Sy het dertig jaar op die horison gehuiwer. En trap [steeds nie]af van die hoogte [nie].
Die munisipale morsigheid was in die meeste provinsies ’n dreigende swart onweerswolk wat oral ’n vernietigende spoor agtergelaat het. Die kleinvolk het holrug gekla van vullis wat ophoop; paaie wat nie meer bestaan nie en potgate wat proporsioneel verdiep; waterkrisisse wat nie opgeklaar is nie. Op nasionale vlak was die lug net so donker … En ek praat nie noodwendig net van Eskom-beurtkrag nie.
Die grootvolk op die bulttop het hulle skynbaar aan niks gesteur nie. Maar hier in Makhanda, by elke winkel waar ek ronddool, die eetplek wat ek uitkies, kan ek “dit” aanvoel, die koms van ons suster. Die bruilofsfees word hier gevier ten spyte van die donkerte waarin ook dié dorp se munisipaliteit gehul is.
Ek is vir die dag in dié dorp met sy menige magiese kerke, mengelmoes mense en mooi landskappe: As ’n mens in die hoofstraat afstap en opkyk, sien jy die groen hoogte, die grasheuwels die agtergrond vir die 1820-Setlaarsmonument.… oor die bergtop loer sy skelm… En van ver af wink sy …
Ons suster hét ons uitgenooi, want die werf is wyd en die bruilof groot. My gasheer is Richard, die verkoopsman by die motorhandelaar waar ek die voertuig laat diens. Dit is altyd goed om hom weer te sien. Richard se rojale laggie, vonkelende oë en hartlike groet is my verwelkoming in die goeie ou Grahamstad.
Die gastelys van liewe, vriendelike mense is lank. Daar is die meer-as-hulpvaardige verkoopsman waar ek my stapskoene koop, en die sekuriteitswag by een van die ander winkels waar ek aandoen.
(My aankope moet ge”check” word by die uitgang van dié winkel met dese naam. Beleefd, nie wantrouig nie, vra hy of ek sal omgee as hy my inkopiesakke deurgaan en alles op die strokie afmerk. Wat ’n onaangename taak moet dit nie wees nie! Ek onthou iemand het eenkeer geweier dat haar sak nagegaan word by die in- en uitgang van die enigste supermark op ons dorpie. Sy het al jare lank daar gekoop en na dié vernedering besluit om nooit weer haar voete in daardie winkel te sit nie.)
Ek ervaar hier in Makhanda geen wantroue nie. Die ander bruilofsgaste wat my aandag trek is ’n kort mannetjie met ’n lus vir die lewe en hope energie, wat sy skoongeveegde trollie trots aanbied by Pick ’n Pay; ’n jong meisie by een van die ander winkels wat my te hulp snel toe ek instap met ’n magdom inkopiesakke in my hande: “Shame, let me help you,” en deurwagte oral wat groet asof ons jarelange vriende is. Die kelnerin by die eetplek onder die bome is ’n regte terggees wat waarskynlik die seremoniemeesteres by die bruilof sou gewees het!
Ek gaan sit by die tafel en doen bestekopname van my oggend sover. Wedersydse respek, nee meer as dit, ’n celebration van ’n kaleidoskoop karakters en kulture. My asem raak weg … O, die dans van ons Suster!
By dié feesvieringe is daar geen meerderwaardigheid enersyds, of onderdanigheid andersyds nie. Ek ervaar ’n ekwaliteit hier, soos op geen ander plek waar ek my ooit bevind nie. Superioriteite en inferioriteite is uit die weg geruim. Menswaardigheid word almal gegun en op die koop toe, behoorlik gevier. Geen wantroue nie, want Makhanda bemagtig jou. Maar elke silwer randjie het hier ook, soos ek sê, sy donker wolk, ja. Talle inwoners van die dorp het reeds die fees verlaat.
Ek is by dié intieme Makhanda-bruilof bloot net ’n gas wat ’n vinnige draai daar maak, maar soos die hoofkarakter Maria in Die uurwerk kantel van Marie Heese, dink ek tog by myself: ek kon my nooit so inleef in die politiek nie vir my lyk dit die belangrikste om sommer net met mense goed saam te leef
En dit blyk dat ’n mens dit in Makhanda kan doen. Ek haal my hoed af vir jou en jou mense, en groet jou saggies, voordat ek huis toe vertrek met die verwagting dat die nuwe Regering van Nasionale Eenheid die Makhanda-bruilofsfees nog vir dae, maande en jare sal vier.